Antibiotika

Rhythm Records/Punkskelm Records: RR091 (2006)

cover artwork: Antibiotika

Antibiotika

dit was 'n gelukskoot
volksmoord vermy
wie sê Afrikaans is dood?
jammer meneer, ek het my les geleer

die goddelose het geen heenkome
ruik soos tienergees
'n bleeksiel tussen die spoke

donker afrika is net donker vir die met oogklappe aan
hy wat nie kan dink
wie se harsings hard en stowwerig is

mik vir my hart
dit pomp wildernis hier binnekant
ek's net 'n toeris
in my geboorteland
'n gekwesde dier in 'n hok
op antibiotika

dis die waarheid wat my geweld aandoen
ek leef in ongeloof
my leed is eindeloos

wil jy stilstaan as ek voortgaan?
hoe kan mens dink as jou hande altyd vasgebind is?

Van Weelde En Rykdom

ek probeer 'n lae profiel handhaaf
en ek probeer om my growwe kante glad te skaaf

as ek net kon beter voel
as ek net kon beter doen
dis 'n logiese afleiding
na jare se breinskade
is ek tot afhanklike verdoem

als wat skitter glinster selde heeltyd dieselfde
en in retrospek is dit jou naaste wat jou mishandel

ek word deur my begeertes beheer
ek's net 'n leek wat selde uit sy foute uit leer
ek laat myself in die steek
keer op keer
keer op keer
is ek onbeskut teen stormweer

en in retrospek is dit jou naaste wat jy mishandel

ek dink ek weet hoe jy voel
maar hoe kan mens verseker wees?

Tussen Die Krake

hierdie jaar het soos 'n vliegtuigenjin op my neergedaal
en ek neem aan ek sal moet verantwoordelikheid hiervoor aanvaar

my brose verstand
wat wit, warm
soos 'n jong vlam
hierdie lopende doodskis verbrand

onkunde sal altyd seëvier
jou haat sal jou verteer

dis jammer dat almal so verskriklik jammer is
soos traumapasiënte is ons gevoelloos
maar doelgerig om so vinnig as moontlik
ons pad
ons pad uiteindelik
uiteindelik hier uit te vind

jou haat sal jou verteer

in ons verbrokkelende fondasie
is daar nou lewe in krake
waar daar eers niks was nie
en ons sal bly en veg
en sodoende ons menswees verloor
maar wat bly dan oor?

my haat sal my verteer

Kyk Noord

dis als te vergeefs
hoe meer ek daaroor dink
hoe meer moet ek vergeet
daar's net een ry spore
dis redelik vanselfsprekend
maar daar's sand tussen my tone

dis al wat ek benodig
die vars lug in Desember
en die wind deur die bome

nou fok ek net voort
ek verbeel my ek kan op water loop
'n vlietende plato
die helderheid van jeug verloor

ek's 'n agtergeblewene
op die grasvelde van my kinderdae
hier is daar geen vuiste
'n voortbestaan is al wat ek vra
ek staan 'n swerwerskans
die kilometers lag en my gesig dra die lyne

hou net stil
'ie mes sny al hoe dieper
hoe harder jy spartel
tyd sal jou vergewe
ek weet die dood gaan my vind